top of page

WIE IS ONS

My naam is Pieter de Klerk en ek is getroud met Elsa.

 

Ek is al 30jaar+ besig met studies en navorsing in God se Woord. Hoe meer en dieper ek die Woord nagespeur het, hoe meer het ek agtergekom dat die Bybel uitgeskuif is na ‘n tweede plek deur kerk tradisie. Tradisie speel vandag so ‘n groot rol dat selfs die Bybel aangepas word om daarby in te pas.

 

Ek was ook vele jare betrokke by berading sowel as bevryding. My gesag waaronder ek bevryding beoefen het was Pastoor Josef van den Heever onder wie ek my opleiding gehad het. Hy weer, was onder die gesag van Pastoor Nico Landman wie later hoof van die PPK geword het.

 

Wat my so opgeval het mbt berading, is die totale gebrek aan bybelse kennis by die kinders van God. Daar het ek gesien hoeveel skade predikers kan doen aan gemeentelede. Soveel van hierdie persone se probleme is opgelos deur hulle net deur God se woord te neem.

 

My groot belangstelling is egter die profetiese woord. Ons is so naby aan die koms van Jesus Christus en die oorgrote meerderheid van gelowiges is so onkundig daaromtrent. Hier blameer ek die predikers.

 

Wanneer kom Jesus? Niemand weet nie. Hy het egter vir ons tekens gegee en daardie tekens is nou besig om baie vinnig te eskaleer. Wees net bewus dat Jesus gesê het dat dit nog nie die einde is nie. Die meeste voorwaardes vir die Wegraping is egter so bitter naby aan vervulling.

 

Elsa staan my onbaatsugtig by en sy is my steunpilaar. Sy is verantwoordelik om seker te maak dat dit wat ek skryf, verstaanbaar is. Dit is haar gebede en liefde wat my laat staande bly.

 

Hierdie  webblad is ‘n saak van liefde vir God en mens. Ek doen dit in my spaartyd want ek bedryf ‘n besigheid en baie aande is die energie vlakke maar laag, dan gee God krag, want iewers is daar dalk ‘n kind van God wat ‘n vraag het en mag die artikel waarmee ek besig is, die antwoord gee.

 

Ek wil ‘n beroep op die leser doen om nie die artikels net te aanvaar of te verwerp nie. Gaan na die Woord van God en vors dit op jou eie na en neem dan so ‘n besluit.

 

Laastens: Ek kan onthou jare gelede het ek al wat oorsese prediker wat Suid Afrika besoek het, slaafs nagevolg.  Alles wat hulle gesê het, het ek as soetkoek opgeëet.  Toe, op ‘n dag kom die vraag na my: Is jy ‘n navolger van die predikers (mens) of van God. Dit het my tot in my diepste geskud. Daardie dag het ek ‘n besluit geneem. Ek volg God en Sy Woord bo alles.

 

Groetnis

 

Pieter

bottom of page