top of page

HOE OUD IS DIE AARDE?

Hieronder  is ‘n berig wat in Die Beeld verskyn het. Daar is 5 punte wat aangeraak word, maar vir hierdie bespreking wil ek net verwys na punt 2.


‘Talle verlaat Christen-geloof’



Oortuigings wat vir sommige Christene die hoeksteen van hul geloof is, is besig om ander mense in strome hul rug op dié geloof te laat keer. (Neels Jackson)


Dit het gister duidelik geblyk toe prof. Scott McKnight, Nuwe Testamentikus aan die North Park University in Chicago, die VSA, by die Universiteit van Pretoria gepraat het oor redes waarom mense die Christelike geloof verlaat.


McKnight het die bekeringsverhale van talle mense bestudeer en gesê dit toon telkens dieselfde elemente. Dit sluit in dat iemand ’n krisis met sy oortuigings ontwikkel, antwoorde begin soek, met ’n nuwe stel oortuigings gekonfronteer word en hom of haar daartoe verbind.
McKnight het gesê presies dieselfde patroon geld ook met mense wat die Christelike geloof verlaat omdat hulle in die proses een stel oortuigings die rug toekeer en ’n ander aanneem.


Volgens McKnight is die stroom jongmense wat Amerikaanse kerke verlaat nou so groot dat dit die voortbestaan van die kerk oor ’n geslag of wat in die gedrang kan bring.


Hy het na die verhale van talle sulke mense gaan luister en bevind daar is vyf faktore wat baie mense se Christelike oortuigings in ’n krisis laat beland het:


1  Die rigiede leer dat die Bybel onfeilbaar is. Volgens hom berus dit op ’n foutiewe leer by kerke dat die Bybel as’t ware deur God aan die Bybelskrywers gedikteer is. Mense wat die Bybel dan self bestudeer, kom dan later met ’n skok agter dat daar baie van die menslikheid van die Bybelskrywers in hul geskrifte te sien is.



2  Die botsing tussen die wetenskap en geloof, spesifiek waar kerke leer Genesis vertel presies hoe die wêreld ontstaan het.



3  Die manier waarop Christene en die kerk leef. Hy het verwys na die skandale van seksuele misbruik in die Rooms-Katolieke Kerk in die VSA en hoe dit sommige mense laat voel het dat hulle nie met integriteit deel van die kerk kon bly nie.



4 Die beskouing van die hel. Baie mense kan nie aanvaar dat dit billik is dat God iemand vir ewig straf vir sondes in ’n tydelike lewe van miskien 75 jaar nie. Hulle vra of die straf nie by die oortreding moet pas nie.



5  Die “God van die Bybel” wat dikwels voorgehou word, skrik baie mense ook af. Daar word onder meer geredeneer dat as God almagtig is, hy nie goed kan wees nie, anders sou die wêreld nie so vol kwaad gewees het nie. En as hy goed is, kan hy nie almagtig wees nie, want anders sou hy die boosheid gekeer het.


McKnight sê dié bevindings behoort die manier waarop Christene hul geloof verdedig op ’n ander koers te stuur. Mense is onder meer lief om die opstanding van Jesus uit die dood te verdedig, terwyl dit nie  een van die  probleem areas is nie. Die kerk behoort ook veilige ruimtes te skep waar mense wat met sulke vrae worstel, nie veroordeel word nie, maar waar hulle die kwessies wat hulle pla openlik kan bespreek.


Hierdie is ‘n onderwerp wat my al baie jare na aan die hart lê. Indien daar een area is wat ek glo  ontsaglike skade aan die Christelik-geloof  gedoen word, dan sal dit wees die totale wanbegrip oor die boek Genesis. Kom ons kyk daarna.



Genesis 1:1-2


1 IN die begin het God die hemel en die aarde geskape.
2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van   
  God het gesweef op die waters.



Is dit moontlik dat die Bybel wat God se Woord is, verkeerd mag wees in hierdie onderwerp? Is dit moontlik dat met al die getuies van fossiele en argeologiese opgrawings, die wetenskap dalk verkeerd kan wees? Of is dit dalk net moontlik dat die Bybel en die Wetenskap altwee korrek kan wees?



Iets wat ek so deur die jare geleer het, is dat die Bybel onfeilbaar is en daar waar daar konflik ontstaan, dit nog altyd weens ‘n gebrek aan kennis van my kant was. Menigmaal het ek misgetas en dan getwyfel oor die korrektheid van God’s Woord net om later beskaamd te staan wanneer ek deur gebed, smagting en bepeinsing ‘n wonderlike openbaring ontvang. God is getrou en indien ons as Sy kinders na Hom gaan, sal Hy dit op Sy eie tyd aan ons openbaar.



Kan ons eerlik die jong mense soos uitgebeeld in die berig , kwalik neem en hulle veroordeel, of moet ons dalk net die fout by onsself begin soek?



Christenskap en Wetenskap!!!!!!!



Kom ons kyk vlugtig na die Galileo geval: In 1616 besluit ‘n komitee van die Roomse Inkwisisie op  die hipotese dat die aarde die middelpunt van die heelal is en dat die Son een keer per jaar daarom sirkel. Die Roomse Inkwisisi besluit dat Galileo se stelling dat die Aarde om die Son draai, filosofies belaglik en Skriftuurlik ‘n false leerstelling is en dus Godslasterlik is.



Pope Paul V vaardig ‘n bevel uit dat Galileo nie oor sy bevindinge mag praat of skryf nie. Die Pope vaardig hierdie bevel uit onder sy sogenaamde “Onfeilbaarheid as God se uitsluitlike Gesant op aarde”. (Die Bybel leer dat die Heilige Gees, God se onfeilbare gesant op aarde is.)

In 1633 besluit Pope Urban VIII dat Galileo onbepaald onder huis-arres geplaas moet word, omrede Galileo steeds dieselfde mening huldig en propageer, wat in direkte teenstelling met die Rooms Katolieke Kerk leerstelling is.



Ondanks vele mediese probleme en verslegtende gesondheid bly Galileo onder huis-arres tot sy dood in 1642. Die Rooms Katolieke Kerk aanvaar uiteindelik in 1983 dat Galileo dalk tog reg kon wees. LW. DALK tog reg  kon wees.



Dit terwyl die getuies onbetwisbaar is ten opsigte van Galileo se destydse hipotese. Ja, daar was toe al ’n man op die Maan gewees. Dan staan ons as christene verbaas indien daar met ons gespot word. So verontwaardig.


Waar laat dit ons met die Bybelse 6 dae skepping en die miljoene jare Wetenskap model?



Op ’n geleentheid vang my oog 2 Petrus 3.



2 Petrus 3:2-7


2 sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.
3 Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel
4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.
5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,
6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.
7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.



Ek het altyd van die veronderstelling uitgegaan dat hier van Noag se vloed gepraat word, maar toe besluit om dieper te delf.



Sou ons Genesis 1:1 en 1:2 bestudeer dan kom daar iets uit wat dadelik ‘n ander lig werp op wat maar altyd net aanvaar is.



Gen 1:1-2


1 IN die begin het God die hemel en die aarde geskape.
2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van
God het gesweef op die waters.



“En die aarde WAS”.  Hierdie woord wat vertaal is as WAS, kom van die woord abad of aw-bad  (Strong’s Lexicon)


אָבַד [’abad /aw•bad/]. A primitive root; 184 occurrences; translates as “perish” 98 times, “destroy” 62 times, “lose” 10 times, “fail” twice, “surely” twice, “utterly” twice, “broken” once, “destruction” once, “escape” once, “flee” once, “spendeth” once, “take” once, “undone” once, and “void” once. 1 perish, vanish, go astray, be destroyed. 1A (Qal). 1A1 perish, die, be exterminated. 1A2 perish, vanish (fig.). 1A3 be lost, strayed. 1B (Piel). 1B1 to destroy, kill, cause to perish, to give up (as lost), exterminate. 1B2 to blot out, do away with, cause to vanish, (fig.). 1B3 cause to stray, lose. 1C (Hiphil). 1C1 to destroy, put to death. 1C1A of divine judgment. 1C2 object name of kings


Dit is dus ook heeltemal korrek om dit so te stel; “En die aarde het geword woes en leeg”, of “Die aarde het verwoes geword en was woes en leeg”. Dit maak nie saak hoe dit vertaal word nie; die begrip is duidelik, die eerste aarde het vergaan.


Kyk ons na 2 Petrus 3:2-7 en Genesis 1:1-2 dan wil dit blyk dat ons nou op die tweede aarde lewe en dat die eerste aarde in Genesis 1:1 ge abad of ge aw-bad was, naamlik vernietig deur water.


Dus Genesis 1:1 “In die begin” is in die baie verre verlede en is die wetenskap wel in totale harmonie met die Bybel. So laat die wetenskaplikes rustig die ouderdom van die heelal bepaal en laat ons as Christene ons tyd eerder spandeer om verder te delf in God se Woord en hulle te ondersteun want die weteskap is heeltemal korrek in hulle afleiding dat die aarde en uitspansels baie ouer is as 6 duisend jaar.


Hoe die oorspronklike aarde en heelal geskep is, openbaar God nie, maar lig die sluier net so ietwat. Sou ons na die werkinge van die drie-enige God kyk, dan is selfs die “Big Bang” teorie nie on-bybels nie. Hiermee sê ek nie dat ek die Big Bang teorie ondersteun nie, net dat dit wel moontlik kan wees. Net God weet wat en hoe Hy dit gedoen het.


a) God die Vader - Skepper van die materie
b) God die Seun -  Vormer met die materie
c) God die Heilige Gees - Onderhouding van die materie


So, die Vader het die materie in die heelal gemaak, terwyl Jesus dit geneem het en onder Sy hand die heelal tot stand gekom het en word deur die Heilige Gees in stand gehou.


Dat ons wel ’n baie vae idée kan verkry omtrent die lange tydperk wat dit kon geneem het vir die oorspronklike aarde om bewoonbaar te word, het ons slegs nodig om na die Karboniese tydperk in die geskiedenis te kyk.


Stel jou ’n aarde voor waarvan ’n groot deel bedek word met moerassige woude van reusagtige, varingagtige bome en baie ander plante. Dis ’n stomende, broeiende planeet. Die plante voer die geilste bestaan onder die son. Gulsig slurp hulle die oormaat koolstofdioksied in die atmosfeer op, om in ruil daarvan, die atmosfeer met hope suurstof te verryk.

Tog is dit ook natuurlik dat van die ou plante mettertyd sal vrek namate nuwe plante bly opskiet en in die vogtige moerasse omhoog beur. Al hoe meer reste van dooie plante hoop gevolglik in die woudbodems op. Dik lae verrottende plantmateriaal word op baie plekke gevorm en met die lange milleniums saam verander hierdie afgebreekte plantmateriaal naderhand in “swart klip”.

Hierdie voorstelling is nie uit die duim gesuig nie. Dit, sê die wetenskaplikes, is inderdaad hoe die aarde sy baie steenkool gekry het wat ons vandag vir soveel dinge gebruik, hetsy om ons kaggels in die wintermaande brandend te hou of om elektrisiteit op te wek of ons fabrieke te laat werk.

Die geleerdes vertel dat die grootste tydperk van steenkoolvorming die sogenaamde Karboontyd was, ’n dramaties interessante tyd in die jong dae van die aarde.
 
Met verloop van tyd, só verduidelik hulle die proses, het die dooie plantmateriaal onder vars lae plantreste en grond begrawe geraak. Die gewig van die boonste materiaal het van die water uit die onderliggende materiaal gepers en dit tot ’n bruin, sponserige stof genaamd turf of veen laat verdig, die eerste stadium in die vorming van steenkool.
 
Nadat nog meer tyd verloop het, is die turf selfs dieper begrawe. Nog water is daaruit gedruk en die plantmateriaal nog verder saamgepers. Naderhand is ’n sagte, bruinerige steenkool genaamd ligniet gevorm. Ligniet of bruinkool krummel maklik en bevat steeds plantvesels.
 
Namate die drukking op die ligniet groter geword het, het dit eers in ietwat solieder sub-bitumineuse steenkool en toe in die nog harder bitumineuse steenkool verander. Laasgenoemde is die volopste van die verskillende vorms van steenkool en is die soort wat in huise en fabrieke gebruik word. Dit is swart en breek maklik.
 
Self nog groter druk het bitumineuse steenkool in antrasiet verander, die hardste steenkool wat daar is. Dit rook nie wanneer dit verbrand word nie en is die skaarste van die verskillende steenkoolsoorte.
 
Steenkool word op elke vasteland aangetref, ook op Antarktika. Daar is ook al neerslae onder die see gevind. 



Die tyd wat dit geneem het om hierdie velde van steenkool te vorm word gesê dat indien dit  met die weligste hedendaagse plante sou gebeur, dit ‘n tydperk van 1200 jaar sou neem om ‘n 120mm laag te vorm of 7200 jaar om ‘n laag van half meter te vorm.



In Nova Scotia is daar sekere plekke gevind waar daar tot 76 lae van steenkool is waarvan een 7 meter en ‘n ander 12 meter dik is. Ons sien dus dat dit baie duisende, moontlik miljoene  jare geneem het om slegs die steenkool te vorm. Hoeveel ekstra eeue moet dit nie geneem het net vir die aarde om af te koel net om die plante te kon akkomodeer nie.



So waar Genesis dus sê "In die begin”, sluit dit al hierdie tye van tye van tye in.



DIE CHAOTIESE AARDE



Kom ons delf so bietjie verder.



Die skepping van die “Oorspronklike Aarde” was in die baie verre verlede. Dit moes ongetwyfeld ‘n baie pragtige aarde gewees het.  Dit het welige plantegroei gehad en mettertyd het daar voëls, see en land diere gekom. Die Bybel sê niks oor hoe hulle tot stand gekom het nie, maar ek glo dat God hulle geskep het, net soos God hulle later weer sou herskep. Dinosorusse het in daardie tydperk gelewe en om hulle weg te wens is nutteloos en sinneloos. Dit is ook duidelik dat daar ‘n vorm van menslike wesens was. Meer hieroor later.



Hoe lank hierdie tydperk voortbestaan het, is onbekend, maar toe oorval ’n groot katastrofe die aarde en word dit “Woes en leeg”, en word oorspoel met water en “duisternis” omvou die aarde. Die slim mense glo dat 'n meteoriet het die aarde getref.



Jesaja sê vir ons in Jes 45:18


18 Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het - Hy is God! - wat die aarde geformeer en dit gemaak het Hy het dit bevestig Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word - Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.

Wat gebeur het oor hoe die aarde woes en leeg geword het, is die Bybel stil. Dit is wel duidelik dat met die val van Adam en Eva, daar alreeds sonde bestaan het voor God hulle nog geskape het.

‘n Baie insigewende gedeelte uit Esegiël 28:12-19

12 Mensekind, hef ’n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.
13 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.
14 Jy was ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ’n heilige berg; ’n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.
15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.
16 Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!
17 Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.
18 Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ’n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het.
19 Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ’n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.



Daar was nog nooit ‘n koning van Tirus wat aan hierdie beskrywing voldoen het nie en kan ons met veiligheid aanneem dat hier na die rede vir die val van Lusifer verwys word.


Let op na die verwysing in verse 14 en 16. Hier het die koning  (Lusifer) gewandel tussen “vurige gesteentes”. Dit plaas hom in die geskiedenis van ‘n baie vroëre tydperk toe die aarde nog baie vulkanies was.


Die teksgedeelte gee ons die idee dat Lusifer aangestel was as koning oor die oorspronklike aarde. Dit maak nie sin om as koning aangestel te word oor ’n leë, barre stuk aarde sonder enige onderdane om  te dien nie. Saam met hom het engele regeer wat later saam met hom gerebeleer het. 



‘n Verdere verwysing na menslike bestaan op die eerste aarde vind ons in Jeremia 4:23-26


23 Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie.
24 Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud.
25 Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg.
26 Ek het gekyk, en die land van tuine was ’n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor
die HERE, voor sy toorngloed.



Let mooi op na die woorde wat gebruik word om die tydperk te bepaal. Jeremia sê hy sien die aarde ,”woes en leeg” (Genesis vloed). Ook dat “sy lig was daar nie” (Genesis vloed). Interresant is vers 25, “ Ek het gekyk, en daar was geen mens nie”. Onthou ons kyk hier na Geneses 1:2



Adam was aangesê om te heers oor die diere. Omrede daar geen ander mense was nie, is hy nooit aangestel as ‘n koning nie. ‘n Koning regeer oor mense.



In hierdie tyd is Lusifer uitgewerp uit die derde hemel.


Jeaja 14:12-14


12 Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!
13 En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde.
14 Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!



En dit is die sonde wat bestaan het met die skepping van Adam en Eva. Lusifer het Satan, wat teenstander van God beteken, geword.



Indien daar mense op die eerste aarde was, dan is hulle saam met die chaotiese aarde vernietig. Daar is baie wat glo dat dit diè is wat die demone of onheilige geeste is waarna Efesiërs verwys.



Waar is die tasbare bewyse dat daar wel mense was wat daardie tyd geleef het, word gevra. Wel, ‘n goeie voorbeeld vir ons in Suid-Afrika is die van Mev Ples. Haar skedel is in 1947 in die Sterkfontein Grotte gevind. Daar word beweer dat sy tussen 2 en 3 miljoen jare gelede geleef het. So is daar baie ander vondse wêreldwyd gemaak wat weer eens dit moeilik maak om net die oë te sluit omrede ons nie die Bybel wil bestudeer nie.



NOAG SE VLOED



Dit is duidelik dat Petrus in 2 Petrus 3 nie verwys na Noag se vloed nie, want daar is heelwat verskille tussen die twee vloede.



Noag se vloed



a) Die Gees van God het nie oor die waters gesweef nie
b) Daar was nie duisternis oor die aarde nie
c) God het slegs die mens en dier vernietig, maar nie die aarde nie
d) Noag en sy familie het die aarde herbevolk
e) God het nie toe vir Adam en Eva geskape nie, maar 2000 jaar vroëer
f) Na die vloed het Noag na om en by 200 dae die ark verlaat en die aarde was dadelik bewoonbaar.



DIE 6 DAE SKEPPINGS VERHAAL


Nou kom ons by nog ‘n kwêl vraag.


Goed, sê jy, dis alles goed en wel, maar die Bybel leer dat Genesis 1:3-31die skepping van die aarde, alle lewende diere, die mens en plante beskryf. Die antwoord is JA en NEE. Paradoks ne!


Slegs die mens en die diere is toe geskape. In die eerste paar Genesis dae is die aarde slegs herstel. Ek herhaal; God het die aarde nie herskêp of geskape nie, maar wel net herstel. Die sade van die plante was in die grond na die ystydperk en het met die hitte van die son ontkiem.


En dit is waar al die tweestryd en twis vandaan kom. Baie dierbare, goeie mense kan nie die kloutjie by die oor bring nie en verwerp dan die Woord van God en is dan vir ewig verlore.


So baie kennis het vir ons verlore gegaan gedurende daardie tydperk wat bekend staan as ‘Die Donker Eeue”. Die Bybel is van ons voorouers weggeneem en die is vervolg en gedood indien ‘n Bybel wel in hul besit gevind is. Satan het baie goed gebruik gemaak van daardie tydperk en het ‘n klomp valse leerstellings pos gevat. Gods kennis het verlore gegaan, maar ek dank God dat hy oral mense opwek om die Woord te neem, te ondersoek, verlore waarhede te herontdek en dit openbaar te maak.


TER AFSLUITING


So, ons weet dat daar ‘n eerste aarde was wat vergaan het; dat ons nou op die tweede aarde lewe. Wat sê God se Woord op die toekoms van hierdie tweede aarde?


2 Petrus 3:7


7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.


Ja, hiedie aarde gaan met vuur vernietig word. Dit is ‘n skrikwekkende gebeurtenis wat voorlê. Dit is dan die einde van God se verlossingsplan met die mens en dan begin die omega era. Dit is die era van ‘n nuwe aarde en die Nuwe Jerusalem. Geen sonde of ongeregtigheid meer nie.



Waar gaan jy jou omega tyd deurbring?

Kyk weer na punt 2: Die botsing tussen die wetenskap en geloof, spesifiek waar kerke leer Genesis vertel presies hoe die wêreld ontstaan het.



Moet nie dat die gebrek aan kennis jou van God se liefde skei nie, maar aanvaar die Bybel as God se onfeilbare woord.

MAAR DAN BEGIN STAP 2. Begin die Woord ondersoek. Leer God ken. Leer Sy onuitputlike liefde vir jou ken. Leer Sy liefde vir ‘n verloregaande wêreld ken. En dan daarna baie belangrik, leer wat God se doel met JOU lewe is. Dan kan jy ander help om God ook te vind.

bottom of page