top of page

OORLOG PSALM 83

Terwyl ons aandag gevestig is op President Obama se plan om Amerikaners van hulle vryheid te beroof en die stadig maar sekere ineenstorting van die Dollar en daarmee gepaardgaande meesleur van die wêreld ekonomiëe, is die Midde Ooste besig om uitmekaar te spat. Ons sit in die voorste gestoeltes om die profetiese daarstelling van die Gog en Magog oorlog gade te slaan.



Ons sien alliansies wat tussen lewenslange vyande gesmee word; Rusland en Iran, terwyl Turkye wat baie lank saam met die Weste ge-assosieer is, nou meer en meer betrokke raak in ‘n strategiese alliansie met Rusland en Iran. Selfs Iran en Egipte.



Maar terwyl die Gog en Magog oorlog naby is, is daar ‘n ander oorlog wat aan die broei is en eerste gaan gebeur naamlik; die Oorlog van Psalm 83.



Ek was heel onkundig hieromtrent, maar dit is wat die studies van profesieë so vervullend maak. Daar gaan altyd iets nuuts oop.



Volgens alle aanduidings is Israel op die punt om ‘n voorkomende aanval op Iran se atoom aanlegte te doen. President Obama skop met geweld daarteen en beskerm Iran met alle mag. Hy draai selfs sy rug op Israel en plaas ontsaglike druk op hulle om nie aan te val nie. Dit terwyl Iran dit prontuit stel dat dit hulle doel is om Israel totaal te verwoes. Waarmee is hy werklik besig?



Die resultaat van die Psalm 83 oorlog sal wees dat al die Islamitiese state wat Israel omring, verslaan en uitgedelg gaan word. Kom ons kyk na Psalm 83



’N LIED. ’n Psalm van Asaf.
2 o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God!
3 Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof
4 Teen u volk smee hulle listig ’n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes.
5 Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.
6 Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ’n verbond:
7 die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners,
8 Gebal en Ammon, en Amalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus.
9 Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ’n arm vir die kinders van Lot. Sela.
10 Maak met hulle soos met Mídian, soos met Sísera, soos met Jabin by die spruit Kison:
11 hulle is verdelg by Endor, hulle het mis geword vir die grond.
12 Maak hulle, hul edeles, soos Oreb en Seëb, en al hulle vorste soos Seba en Salmúna,
13 wat sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem!
14 My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind.
15 Soos vuur wat ’n bos verbrand, en soos die vlam wat berge aan die brand steek -
16 vervolg hulle só met u storm en verskrik hulle met u stormwind.
17 Oordek hulle aangesig met skande, dat hulle u Naam kan soek, o HERE!
18 Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig, en laat hulle rooi van skaamte word en omkom;
19 sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam HERE is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.

Esegiël 28 skets vir ons die situasie wat gaan heers na die oorlog.

24 En daar sal vir die huis van Israel geen steekdoring en smartlike distel meer wees onder almal wat rondom hulle is nie, wat hulle verag; en hulle sal weet dat Ek die Here HERE is.
25 So sê die Here HERE: As Ek die huis van Israel versamel uit die volke onder wie hulle verstrooi is, en Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies, dan sal hulle in hul land woon wat Ek aan my kneg Jakob gegee het.
26 En hulle sal daarin veilig woon en huise bou en wingerde plant; ja, hulle sal veilig woon as Ek strafgerigte voltrek teen almal wat hulle van alle kante verag; en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is

Ja, die vrede wat Israel so naarstiglik soek sal hulle kry deur God se oordeel oor die nasies wat hulle omring.

Hoe lank hierdie vrede gaan hou totdat die Oorlog van Gog en Magog gaan plaasvind, weet ek nie, maar glo dit sal nie baie jare wees nie.



Deurdat daar twee oorloë gaan plaasvind, kry ons ‘n aanduiding van watter nasies betrokke gaan wees. In die Gog Magog oorlog gaan die binnekring Islamitiese nasies afwesig wees. Toeval? Nie volgens God se Woord nie.

Sal in ‘n ander artikel die Oorlog van Gog en Magog aanspreek. Wil nou net twee punte uitlig. Eerstens , wanneer daardie inval plaasvind, sal Israel veilig wees sonder vrees. Tweedens dat die psalm 83 Oorlog geveg sal word deur die IDF (Israel Defence Force), maar die Gog Magog Oorlog word deur God self beheer, sonder die IDF.



Esegiël 25

13 daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ’n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val.
14 En Ek sal my wraak op Edom in die hand van my volk Israel gee, en hulle sal met Edom handel volgens my toorn en my grimmigheid; so sal hulle dan my wraak gewaar word, spreek die Here HERE.

Net so terloops: God is ‘n God van liefde, maar ook ‘n God wie se geduld ook ‘n einde het. Ons hier in Suid Afrika draai ons rug op Israel. Ons kies kant met Islam, selfs christene. Die prys daarvoor gaan baie hoog wees.

Vir die Gog Magog oorlog is daar vier voorwaardes wat in plek moet wees:
 

1) Israel moet ‘n soewereine staat wees
2) Veilig wees, “sonder Mure” (militêr beskermd)
3) Veilig wees in die hele Midde Ooste
4) Indien nie die rykste, dan een van die rykste lande ter wêreld.

Voordat ek Psalm 83 verstaan het, het ek werklik nie geweet hoe voorwaardes 2 tot 4 enigsins moontlik gaan wees met betrekking tot Gog en Magog nie. Weer eens het die besef tot my gekom dat God alles weet en ek in my klein menslike gedagtes probeer om my eie idees te vorm en wanneer ek faal, dadelik God se Woord in twyfel trek. God openbaar wat Hy wil, aan wie Hy wil, wanneeer Hy wil en hoe gouer ons dit besef, hoe makliker sal dit vir ons wees om ‘n vol lewe in Christus te lewe.

Kom ons delf verder.

Kom ons kyk na die nasies wat in die oorloë betrokke sal wees:

Psalm 83 koalisie:

Tente van Edom = Afstammelinge van Esau, Palestynse vlugtelinge en Suid-Jordanie

Ismaeliete = Saudi-Arabia

Moab = Palestynse vlugtelinge en Sentraal -Jordanie

Hagriete = Egipte

Gebal = Noord-Lebanon

Ammon = Palestynse vlugtelinge en Noord-Jordanie

Amalekke = Arabiere suid van Israel

Philiste = Palestynse vlugtelinge en Hamas in die Gaza Strook

Bewoners van Tire = Hezbollah en Suid-Lebanon

Syrie = Syrieërs

Kinders van Lot = Moab en Ammon

Palestyne is ‘n etniese etiket wat vandag los en vas gebruik word om na drie promenente Arabiese groepe te verwys; Die Palestyne in die Gaza Strook, Palestyne in die Wesbank en Palestynse vlutelinge. Hierdie groepe bewoon die gebiede wat die naaste aan hedendaagse Israel is. Hierdie is gemengde groepe, maar die hoofgroep kan teruggevoer word na Esau, die vader van die Edomiete.

Gog en Magog Koalisie

Magog, Ros – Rusland met vorige republieke

Persië = Iran

Kus = Sudan, Ethiopië

Put = Libië

Gomar, Meshech en Tubal = Turkey en moontlik Duitsland

Beth-togarma = Turkey en Armenië.

Terug na Psalm 83 oorlog

Die Psalm 83 oorlog sal verwoestend en vinng wees waarin die Arabiese koalisie nie net verslaan sal word nie, maar ook verwoes sal word.

Jeremia 49:

2 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek teen Rabba van die kinders van Ammon oorlogsgeskreeu sal laat hoor, en dit sal word ’n woeste puinhoop, en sy onderhorige plekke sal met vuur verbrand word; dan sal Israel die wat hom in besit geneem het, in besit neem, sê die HERE.

Jeremia 49:

8 Vlug, draai om, skuil diep weg, o inwoners van Dedan! Want Ek het die ondergang van Esau oor hom gebring, die tyd dat Ek oor hom besoeking doen.

Jeremia 49:

19 Kyk, soos ’n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ’n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag; en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ’n herder wat voor my aangesig kan standhou?
20 Daarom, hoor die raadsbesluit van die HERE wat Hy teen Edom geneem en sy planne wat Hy teen die inwoners van Teman beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.

Hierdie is net drie van vele skrifte wat verwys na ‘n Midde-Ooste oorlog wat na my beskeie mening baie vinnig nader kom. Israel het onlangs ‘n lug aanval in Sirië uitgevoer op ‘n fabriek wat blykbaar betrokke was met chemise wapens. Dit lyk dus asof Israel bereid en gereed is om tot voorkomende aanvalle oor te gaan. Die waarskuwing is baie duidelik deur Israel uitgestuur dat hulle nie sal toelaat dat President Assad van Sirië sulke wapens aan Hezbollah verskaf nie. Nog erger is die moontlikheid dat die rebelle die oorwinning oor President Assad kan behaal en volle beheer oor die chemiese wapen arsenaal bekom. Dit sal Israel geen ander keuse laat as om Sirië met volle mag aan te val nie.

In Obadja is daar ‘n baie ernstige waarskuwing van God en ek glo dit is ook van toepassing op Suid-Afrika met ons verwerping van God se volk. Lees self:

Obadja 1:

15 Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.
16 Want net soos julle gedrink het op my heilige berg, sal al die nasies gedurigdeur drink, ja, hulle sal drink en swelg en word asof hulle nooit bestaan het nie.

Die Psalm 83 oorlog gaan binnekort plaasvind, dit is voor die Iran-Rusland oorlog (Gog en Magog) sowel as die sewentigste week van Daniel. Gedurende die Groot Verdrukkings periode sal die Israelse weermag geneutraliseer word, deur die valse sewe jaar vredesverdrag met die Antichris, maar sal aan die begin van die tweede drie en ‘n half jaar verslaan word, en die Jode sal vlug na Petra om die vervolging van die Antichris te probeer ontvlug. Hitler se vervolging, hoe erg ook, sal net ‘n skadu wees van wat met die Jode gaan gebeur. Ons moet vir hulle bid, daar gaan tot twee derdes vermoor word.



Mag ons regering en Desmond Tutu betyds wakker word sodat Suid-Afrika nie as ‘n boknasie deur God geoordeel word nie.



Terwyl Psalm en vele ander Bybel boeke ons inlig oor die komende oorlog, gee Obadja, wat ‘n enkel hoofstuk beslaan, ‘n blik oor hoe die oorlog sal gebeur.



Obadja 1:



18 Dan sal die huis van Jakob ’n vuur wees en die huis van Josef ’n vlam, maar die huis van Esau ’n stoppel; en dié sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die HERE het dit gespreek.

Israel wat verteenwoordig word deur Jakob en Josef, verwoes Suid-Jordanië, verteenoordig deur Esau. Suid-Jordanië word ‘n puinhoop. In die nederlaag sal daar geen oorlewendes wees nie. Geen krygsgevangenis nie, almal sal gedood word.

Obadja 1:

9 En jou helde sal verskrik wees, o Teman, sodat elkeen deur moord uit die gebergte van Esau uitgeroei sal word.



Hier word beskryf dat die soldate van Teman uitgeroei sal word weens die wreedheid van dié groep. Hulle het moord gepleeg. Israeliete vermoor? Dit wys op die felheid van Israel se oorwinning oor Esau.

Esegiël sien ook die oorlog en het dit as volg opgeteken; Esegiël 25:

13 daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ’n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val.
14 En Ek sal my wraak op Edom in die hand van my volk Israel gee, en hulle sal met Edom handel volgens my toorn en my grimmigheid; so sal hulle dan my wraak gewaar word, spreek die Here HERE.

Hierdie teks stel dit ook baie duidelik dat Israel God se volk is.Verder is dit baie duidelik dat God ‘n God van liefde is, maar ook ‘n God van wraak. Daar is ook geskrywe; “Vreeslik is dit om te val in die hande van ‘n lewende God.”

Kom ons gaan aan.

Hierdie oorlog brei uit na Saudi-Arabië.

Jeremia 49:

8 Vlug, draai om, skuil diep weg, o inwoners van Dedan! Want Ek het die ondergang van Esau oor hom gebring, die tyd dat Ek oor hom besoeking doen.

Hierdie is ‘n waarskuwing aan Saudi-Arabië om hulle te onttrek van die alliansie met die Palestyne. Hulle word aangeraai om terug te trek na die binneland . Die historiese ligging van Dedan was in die Noord-Weste van Saudi-Arabië. Esegiël vertel ons dat hulle nie geluister het nie.

Esegël 25:

13 daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ’n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val.

Hierdie verwysing na Dedan is die aanduiding wat vervat is in Psalm 83 en Obadja.

Die Israelitiese weermag gaan oor die suidelike grens van Jordanië en val Saudi-Arabië (Dedan)  aan vanuit die Noord Weste. Selfs so ver suid as die Rooi See.

Jeremia 49:

20 Daarom, hoor die raadsbesluit van die HERE wat Hy teen Edom geneem en sy planne wat Hy teen die inwoners van Teman beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.
21 Van die geluid van hulle val bewe die aarde; daar is ’n geskreeu - by die Skelfsee(Rooisee) word die geluid daarvan gehoor.

Dit plaas die bondgenote van Saudi-Arabië, Suid-Jordanië en Egipte binne die oorlog se visier.

Die Israelitiese weermag sal die bondgenootskap se aanhangers afsny en dan die Gaza Strook inval. Israel sal voortgaan met hulle inval en die nasies om hulle plunder. Jordanië se hoofstad, Amman, kom onder Israelitiese beheer. Jordanië gee oor aan Israel en so kom Israel in besit van Petra. Petra gaan ‘n baie belangrike rol speel in die Groot Verdrukking.



Soos die oorlog voortwoed, beskryf Jesaja 17 wat gaan gebeur in die noorde van Sirië. Die beskrywing is verstommend.



Daar is drie moontlike senarios wat deur Jesaja 17:1-9 beskryf word. Eers die teksvers.



GODSPRAAK oor Damaskus. Kyk, Damaskus word weggeneem, sodat dit geen stad meer is nie, maar dit sal ’n vervalle puinhoop word.
2 Die stede Aroër sal verlate wees; vir die troppe vee sal hulle wees wat daar sal lê sonder dat iemand hulle skrikmaak.
3 En die vesting sal verdwyn uit Efraim, en die koningskap uit Damaskus; en met die oorblyfsel van Aram sal dit gaan soos met die heerlikheid van die kinders van Israel, spreek die HERE van die leërskare.
4 En in dié dag sal die heerlikheid van Jakob, gering word, en die vet van sy vlees sal wegteer.
5 En dit sal wees soos wanneer die maaier die ongesnyde graan bymekaarvat en sy arm die are afmaai; ja, dit sal wees soos wanneer iemand are optel in die dal Refaim.
6 Maar ’n na-oes sal daarin oorbly soos by die afslaan van die olywe: twee, drie vruggies bo in die top; vier, vyf in die takke van die vrugteboom, spreek die HERE, die God van Israel.
7 In dié dag sal die mens kyk na sy Maker, en sy oë sal sien op die Heilige van Israel;
8 en hy sal nie kyk na die altare nie, die werk van sy hande; en wat sy vingers gemaak het, sal hy nie aansien nie: die heilige boomstamme en die sonpilare.
9 In dié dag sal die stede wat sy toevlug was, wees soos die bouvalle van die bos en van die bergtop wat verlaat is vanweë die kinders van Israel, en dit sal ’n wildernis wees.

1) Sirië, wie ons weet het chemiese wapens, gebruik dit in ‘n aanval teen Israel en dood baie in Noord-Israel waarna Israel Damaskus uitwis met ‘n atoombom.
2) Israel wat op vele fronte veg, word gekonfronteer deur die Siriese weermag wat oor die grens stroom en gebruik die Samson Opsie (http://en.wikipedia.org/wiki/Samson_Option ) om te verhoed dat hulle oorweldig word. Hierdie atoombom aanval gaan gemik word na  Damaskus wat net oorkant die noordelike grens van Israel is. Dit wat Jesaja 17:4-6 beskryf  kan die gevolg wees van bestraling, wat Israeliete dood in Noord Israel.
3) President Assad verloor die stryd teen die rebelle en die chemiese wapens val in die rebelle se hande. Dit sal dan na Hezbollah gaan. Israel voer ‘n grootskaalse aanval op Sirië uit om dit te verhoed. Dan is 1 of 2 hierbo moontlik.

Dat Damaskus vernietig gaan word, hetsy deur 1 of 2 is verseker. Damaskus wat die oudste stad ter wêreld is, word onmiddellik vernietig en Sirië word vergruis deur die Israelitiese weermag.

Jesaja 17:

1 GODSPRAAK oor Damaskus. Kyk, Damaskus word weggeneem, sodat dit geen stad meer is nie, maar dit sal ’n vervalle puinhoop word

9 In dié dag sal die stede wat sy toevlug was, wees soos die bouvalle van die bos en van die bergtop wat verlaat is vanweë die kinders van Israel, en dit sal ’n wildernis wees.

14 In die aand - daar is verskrikking! Voordat dit môre word, is hulle nie meer nie. Dit is die deel van hulle wat ons plunder, en die lot van hulle wat ons beroof.

Dit blyk uit Jesaja 17: 14 dat die bedreiging uit Damaskus teen Israel net ‘n baie kort tydjie sal wees. Een oomblik word Israel bedreig met uitwissing en is totaal verskrik. Iets gebeur binne ‘n paar uur en wanneer dit dag word, is die krisis verby. Dit klink vir my na die Samson Opsie wat uitgeoefen word.



Deur Jesaja 11:14 en Jesaja 17:1 weet ons dat Israel Damaskus totaal en al gaan vernietig en dat hulle Sirië gaan oorneem. Huidiglik het omtrent elke Midde Oosterse terreur organisasie verteenwoordiging in Damaskus. Hoe gepas dan dat die stad waarin die meeste teenstanders van Israel verteenwoordig word, deur Israel vernietig word.



Beide Jeremia en Jesaja sê vir ons hoe Egipte, ‘n ander bondgenoot van die Arabiere (Arab Spring), gaan reageer op die nuus wat die Israelitiese weermag met Sirië gedoen het.



Jesaja 19 sê die volgende:



16 In dié dag sal die Egiptenaars wees soos die vroue: hulle sal bewe en vrees vir die handgeswaai van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle swaai.
17 En die land Juda sal vir die Egiptenaars ’n skrik wees: as iemand daarvan melding maak by hulle, bewe hulle vanweë die besluit van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle geneem het.



Huidiglik is President Morsi van Egipte baie braaf en vermoor hy sy eie mense wat teen hom in opstand kom. Hy sien homself as die nuwe Farao van Egipte en is besig om die vredesverdrag met Israel te hersien. Ek glo dat hy dit binnekort gaan opskort. Al wat hom teenhou om dit dadelik te doen, is die militêre en finansiële hulp wat hy van sy vriend, President Obama ontvang. Hy ontvang binnekort 16 van die nuutste vegvliegtuie van Amerika. Hy het ook onlangs vergader met Iran, een van Egipte se jare lange vyande, en die tekens is daar dat sy Islamitiese oortuigens swaarder gaan weeg as sy vriendskap met President Obama.



Maar hierdie groot man, Morsi, wat aan almal wil voorskryf; God gaan hom laat bewe van vrees.

Die Woord van God vertel ons dat met die massiewe welslae van die Psalm 83 oorlog wat Hy aan Israel gaan skenk deur die Israelitiese weermag, die gesig van die Midde-Ooste drasties gaan verander.

Die kleine Israel van die hede gaan binnekort, na die oorlog, ‘n baie groot gedeelte van die Midde Ooste uitmaak.

Die nasies wie hierdie koalisie teen Israel vorm, val tot ‘n baie groot mate in die gebied wat God aan Abraham en sy nastate gegee het. Na die oorlog verskuif die grense na of baie naby dit wat God beloof het in Genesis 15

18 Op dié dag het die HERE met Abram ’n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:
19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete
20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete
21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.

Obadja 1 sê ook die volgende:

19 Dan sal dié van die Suidland die gebergte van Esau, en dié van die Laeveld die land van die Filistyne in besit neem; en hulle sal die veld van Efraim en die veld van Samaría, en Benjamin Gílead in besit neem.
20 Die ballinge van hierdie leërmag van die kinders van Israel sal die wat Kanaäniete is, tot by Sarfat verower; en die ballinge van Jerusalem, wat in Sefárad is, sal die stede van die Suidland in besit neem.

Jeremia 49

2 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek teen Rabba van die kinders van Ammon oorlogsgeskreeu sal laat hoor, en dit sal word ’n woeste puinhoop, en sy onderhorige plekke sal met vuur verbrand word; dan sal Israel die wat hom in besit geneem het, in besit neem, sê die HERE.

Daar is vele meer teksverse, maar ek glo dat die wat ek genoem het, dit duidelik maak dat God Sy Abrahamitiese verbond met Israel gaan nakom. Die grond gaan terug na die regmatige eienaars. Iran kan skree soos hulle wil, Jerusalem behoort aan God en Israel en Jesus sal daarvandaan regeer. En o ja, Die Tempel gaan herbou word. God het so gesê.



Wat word van Egipte?



God sal Egipte bewaar, want God het bepaal dat Egipte nog ‘n rol het om te vervul in die Sewe Jarige Verdrukking wat oor die aarde kom. Intussen het God ‘n ander plan met hulle.



Jesaja 19:



18 In dié dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän spreek en by die HERE van die leërskare sweer; een sal genoem word: Stad van verwoesting.
19 In dié dag sal daar ’n altaar wees vir die HERE binne-in Egipteland en ’n gedenksteen vir die HERE by die grens.

Ja, daar sal 5 stede onder Israel se beheer in Egipte wees en God sal daar verheerlik word.



Dit is hoe Israel veilig gaan voel en woon onder die beskerming van die Israelitiese weermag. Hulle sal ontsaglike rykdomme besit, maar die gramskap van die wêreld op die hals haal. Die grootste olievelde gaan onder hulle beheer wees en hulle sal dus die wêreld ekonomie beheer. Israel sal so staatmaak op hulle weermag dat God nie vir hulle sal saakmaak nie.



Vir ‘n tydjie sal dit so wees, maar dan word hulle skielik aangeval deur Gog en Magog.



Die Oorlog van Gog en Magog sal ek op ‘n ander geleentheid bespreek.

Ek sluit af deur te beklemtoon dat Israel God se volk is. Ons is nie God se volk nie, maar as gereddes is ons deel van die bruid. Israel het hulle beloftes van God, ons het ander beloftes as bruid. Moet nooit probeer om dit om te ruil nie. Bid vir Israel met opregtheid en ek glo God sal dit hoor.

bottom of page