top of page

GEMEENTE VAN LAODICENSE

Openbaring 3:


14 EN skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:
15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!
16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.
17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en Wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.
19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.
20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en My.
21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
22 Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.



Om die briewe aan die sewe gemeentes in Asië te kan verstaan is dit nodig om in ag te neem dat daardie briewe nie ‘n eenmalige skrywe  vir ‘n sekere tydperk was nie, eerder het dit betrekking op drie verskillende omstandighede.



Eerstens, moet ons onthou dat daar heelwat meer as net sewe gemeentes in Asië was, maar dat die gemeentes wat gekies was om die briewe te ontvang die algemene verteenwoording was van die situasie van daardie tyd.



Tweedens bestaan daardie selfde omstandighede vandag. So alles het verander, maar niks het verander nie.



Derdens, verteenwoordig die sewe gemeentes ook die totale geskiendenis van God se kerk op aarde waarvan Laodicense die laaste is voor die koms van Christus. Kom ons kyk vlugtig daarna:



1) Éfese verteenwoordig die tydperk van werke 96 nC tot 200nC
2) Smirna verteenwoordig die tydperk van bitterheid 200nC tot 315 nC
3) Pérgamus verteenwoordig die tydperk van ou valse leering aanhang 315nC tot 475 nC
4) Thiatire verteenwoordig die tydperk van die valse kerk, Rome. 475nC tot 1500 nC
5) Sardis verteenwoordig die tydperk van afvalligheid, donker eeue. 1500nC tot 1850 nC
6) Filadelfia verteenwoordig die tydperk van lydsaamheid. 1850nC tot 1905 nC
7) Laodicense verteenwoordig die tydperk van lou wees en rykdom najaag 1905nC tot hede



Die doel van hierdie artikel is om gemeente 7, naamlik die gemeente van Laodicense te ondersoek en te bespreek .



Op ons het die einde van die eeue gekom en God lê ‘n groot aanklag voor die deur van die Kerk.



Daar is twee aanklagte naamlik louheid en geldgierigheid wat valse sekuriteit verskaf.



Kom ons kyk eers na louheid.



Baie lidmate glo dat hulle ‘Kerk” hulle in die hemel sal laat kom. Solank hulle lidmate is, elke Sondag in die diens is en tiendes betaal dan is hulle gered. Nee, geensins nie. God se redding werk nie op die model van ‘n klub nie. Om deel te hê aan die voordele van ‘n klub is die bogenoemde nodig, maar om gered te word, moet daar ‘n persoonlike vehouding met Jesus wees. Sonder dit beteken alles niks.

Wat my so opgeval het deur die jare is hoe die boodskappe verander het. As kind het ek gehoor van God se liefde, maar ook gehoor dat sonde lei tot die dood en ewige verderf.



Lidmate het soms gemor oor die prediker dan nou klippe gooi. Laat my dink aan die antwoord van een dominee na so ‘n aanklag, “maar broer, hoekom sit jy daar waar die klippe val?”



Wanneer laas het jy ‘n boodskap in jou gemeente gehoor van die ewige verderf, hel, vuurpoel? Wanneer laas het jy uit ‘n diens gestap na so ‘n boodskap, met lood in jou hart deur die besef dat jou saak nie heeltemal so reg is met God nie en dat jou geliefdes dalk die ewige lewe daar kan deurbring deur jou louheid?



Hierdie  waarskuwings boodskappe is baie suksesvol genutraliseer deur die etiket van “Hel and Fire Preachers” om dit om sulke predikers se nekke te hang. So word dit dan onsmaaklik om oor die hel te praat en te waarsku.



Die laaste wat ek so ‘n boodskap gehoor het, was seker 20 jaar gelede. Die boodskappe was deur Theo Wolmarans van Christian Family Church gewees. Dit het my so geruk dat ek die reeks aangekoop en oor en oor geluister het. Dit het my laat besef waarvan God deur Sy liefde, my die geleendheid gegun het om die hel vry te spring. Jesus het Sy hemelse woning verlaat om aan ‘n kruis vir my te sterf om so die losprys te betaal.



Nog ‘n prediker wat God se Woord bo alles stel en die moed het om teen die georganiseerde kerk se apatiese houding te gaan is Ds Hennie Prinsloo. In sy reeks “Die Wederkoms Reeks”, behandel hy die tema van die hel. Dankie Ds Hennie.



Maar ek glo dat God se aanklag teen vandag se predikers opgeteken is in 2 Timoteus 4:



1 EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:
2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
3 want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.



Paules spreek in Galasiërs 1 sy verbasing uit oor hoe vinnig die Woord verdraai kan word:

6 EK verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe,
7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.
8 Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!
9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ’n vervloeking wees!



Jesus sê Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en My.



Dit moet in gedagte gehou word dat hier met die gemeente gepraat word. Jesus staan buite die gemeente. Jesus sê HY staan buite en klop. Ek wil hê dat jy, die leser, verstaan; ek sê nie so nie, Jesus sê so.



Een oggend sit ek in ‘n baie bekende gemeente wat elke Sondag op TV uitsaai. Die hoof prediker is met verlof en ‘n dosent aan die AGS se kweekskool lewer ‘n toespraak. Die tema is Openbaring. Vir ‘n uur wei hy uit dat Openbaring ‘n geestelike boek is en moet geensins letterlik opgeneem word nie.



Na die diens nader ek hom hieromtrent en is hy heel verontwaardig dat ek van hom mag verskil. Wat hy daardie dag gesê het, het die bloed in my are laat stol. Ek het die twee preke op CD. Wat God as ernstige waarskuwing tot ons gerig het, het die persoon as ligterlik afgemaak. Ek wil dit duidelik stel dat Openbaring nie ‘n geestelike boek is nie, maar ‘n letterlike boek.



Openbaring 1:



DIE openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,
2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus - alles wat hy gesien het.
3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.



Van wanneer is ‘n Profesie nou geestelik. Daar is vele ander verwysins wat die letterlikheid van Openbaring staaf, maar dis nie nou die plek of tyd om daarop in te gaan nie.



Nadat die hoof prediker terug was, het ek sy kantoor geskakel en kon nie verby sy sekretaresse kom nie. Ek het ‘n paar keer probeer om ‘n afspraak met hom te kry, maar sonder welslae.



Na nog ‘n oproep of twee, kry ek toe ‘n telefoon oproep van hom. Sy eerste vraag aan my was, “Is jy ‘n gemeentelid?”  Nie waarmee kan ek help nie! Eerstens vra hy behoort ek aan sy kerk? Ek het geantwoord nee en kon die verandering in sy stemtoon hoor. Ietwat koel geword.

Weer eens het ek vir ‘n afspraak gevra, maar is geweier. Sy woorde aan my spook tot vandag by my. Sy woorde was dat hy nie eintlik met my moet praat nie, want ek is nie ‘n gemeentelid nie en  hy het homself omring deur ander Pastore wat ‘n kring om hom moet vorm, want hy is bang hy brand uit. Ek kan nie dink dat Paulus ooit so iets sou sê nie.



Nadat ek met hom gepraat het oor die dosent se lesings, het hy my belowe hy sal daarna luister en na my terug kom. Tot vandag toe, en dit is nou seker twee jaar later, nog niks.



Hy wou toe weet wat my agtergrond is en het ek hom meegedeel dat ek baie jare Operbaring en meegaande boeke soos Daniel, Psalms, Esegiël ens bestudeer, asook valse leerstellings.



Die gesprek het ook gedraai na Katolieke en Moeder Teresa. Vir volle artikel http://sewegemeentes.wix.com/sewegemeentes#!moeder-teresa/cwfn. Weer eens het hy stellings gemaak wat ek vreemd vind. Eerstens sê hy dat Moeder Teresa ‘n baie goeie persoon en Christen was.  Ek het aan hom gestel dat sy wel ‘n goeie mens was, maar dat daar twyfel bestaan of sy wel ‘n Christen was. Hy was nie beindruk met my nie.



Toe vra ek hom of hy saamstem met RKK? Op hierdie stadium was ek werklik verstom oor die rigting waarin die gesprek gegaan het en die terugvoer wat ek van so ‘n welbekende prediker kry. Sy antwoord; “alle gelowe het goed en sleg. Ek neem die goeie uit elke geloof en pas dit toe in my kerk”. Let wel, sy kerk.



Die gesprek is afgesluit met sy uitnodiging om by sy gemeente aan te sluit, om soos hy dit gestel het, “die voordele van die gemeente te geniet.”



Ek was nog nooit weer in “sy” kerk nie. Ek was nog altyd onder die indruk dat ek deel is van die kerk van Christus en dan saam met medegelowiges saamkom vir aanbidding, maak nie saak waar nie. Enige gebou waar mede gelowiges bymekaar kom, daar is God saam met ons. So, dit gaan meer oor lidmaatskap as oor die versorging van God se kinders.



Die Woord stel ook dat teen die einde sal dit wat reg is, verkeerd word en dit wat verkeerd is, as reg beskou word. Alles word omgedraai en uitmekaar geruk.



Dit wat vir God so ‘n euwel is nl homoseksualisme, dat Hy selfs twee stede, Sodom en Gamora, daardeur verwoes het, word vandag op ons kansels geplaas om ons God’s Woord aan ons te leer! Sulke huwelike word toegelaat in ons kerke. Daar word toegelaat dat kinders deur hulle aangeneem mag word. Haat God hulle? Nee, God is lief vir hulle en deur Jesus se offer, redding ook vir hulle daar te stel. MAAR God haat wel die daad wat onbeskryflik is in Sy oë.



Wat doen die Kerk ivm dit? Lou! Te bang om op te staan vir God. Dit is mos veel makliker om Sondag na Sondag te preek oor God se liefde, eerder as om ook God se waarskuwings te predik. Lidmate kan tog nie vervreem word deur sulke preke nie, wat gaan van ons Tiendes en offerhande word?

Daar moet gekyk word na hulle egos, die trots, die eie ek. Indien nie, gaan hulle net na ‘n ander gemeente en kan my kerk leeg loop. Nuus vir jou herder, dis nie jou kerk nie, dis Jesus se kerk. Prediker, jy pas dit net op.



2 Timoteus stel dit so reguit:



MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
5 mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
6 Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word,
7 wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.



Lees weer hierdie gedeelte!! Toe ek dit die eerste keer gelees het, het ek aangeneem dat hier na ongereddes verwys word. Sekerlik kan sulke eienskappe nie die van kerk mense wees nie. Groot was my verbasing toe ek tot die besef kom; hier word nie gepraat van die ongeredde nie, maar van die gemeentes en lidmate.



Die krag is verloor. Kerke het deur hulle Herders en Predikers die krag verloor om teen Satan op te staan en mense die waarheid aangaande God, Sy liefde en waarskuwings te onderrig.



In vele kerke vandag het die Heilige Gees en Sy werking ‘n ongemak geword.



1 Korintiërs 12



Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;


5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;
6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.
7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
8 Want aan die een word deur die Gees ’n woord van wysheid gegee, en aan die ander ’n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
9 aan ’n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
10 aan ’n ander werkinge van kragte, aan ’n ander profesie, aan ’n ander onderskeiding van die geeste, aan ’n ander allerhande tale, aan ’n ander uitleg van tale.
11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy Wil.



Die Gawes van die Gees is verban.



Hoeveel keer kry ek vrae van mense wat die Here al jare dien, net om te vind dat dit melkkos vrae is. Een Dominee het my op ‘n keer gevra hoe hoor mens God se stem. Jesus sê “ My skape ken My stem”.



Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie!! God is liefde, God is genadig, God is lankmoedig, EN, EN,EN..... MAAR, MAAR, MAAR God is ook ‘n regverdige God wat die sonde haat en nie ongestraf kan laat bly nie. Dit is hierdie deel van die Evangelie wat in totale verwaarlosing gegaan het en massas mense in die hel gaan laat beland.

Hebreërs 5:


11 waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor.
12 Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ’n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.
13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ’n kind is.
14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.



En wie se skuld is dit? Wie moet die kinders van God leer?



Ek wil ‘n ernstige beroep op ons herders en predikers doen. Staan op in die krag van die Heilige Gees en wees vreesloos in die verkondinging van die Woord. Gee mense die kans om die werklike Jesus te leer ken en tot die kennis te kom waarvan Hy deur Sy dood, ons die geleentheid geskenk het om te ontkom.


RYKDOM:



2)  Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.



Die meeste kerke besit vandag baie bates. Die Rooms Katolieke Kerk word beskou as die rykste organisasie ter wêreld.



Ek gaan nie nou ingaan op hierdie punt nie, maar is besig om ‘n in diepte artikel hieroor te skryf. Dit is so deurstrengel van opinies dat dit net nie moontlik is om dit hier te behandel nie.



Ter afsluiting. Mag die volgende nooit vir my of vir jou gesê word nie.



Matteus 7:



21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

bottom of page