top of page

Graag wil ek vooraf omverskoning vra vir die lengte van hierdie artikel. Deurdat die betaal van “Tiendes of nie” so ‘n belangrike aangeleentheid is, is dit noodsaaklik om nie eie opinies te gebruik nie, maar om alles deur die Bybel toe te lig.

Op vele geleenthede, terwyl ek in ‘n diens gesit het en die prediker begin praat het oor tiendes, het ek so gekyk so oor die gemeente en baie arm mense gesien. Dit, terwyl die prediker die gemeente vertel dat indien ons nie tiendes betaal nie, steel ons van God en sal daar swaar ellende oor ons kom, maar “betaal julle tiendes en julle word so geseën dat julle gaan rol in die geld”.



Dan ‘n absolute gruwel wat deesdae in kerke beoefen word: Deur die maand word die kollekte bortjies gedurende die diens ry op en ry af gestuur. Hou die mense dop. Baie verleë steek sommige aanbidders hulle hand uit na die sakkie en maak of hulle geld daarin plaas, maar net deur na hulle te kyk weet jy dat hulle so skaam is want hulle het gekom om God se Woord te hoor, maar het nie geld om daarin te sit nie. Ek kry hulle so jammer. Ek was ook daar gewees op ‘n tyd. Maar kom betaaldag, dan word Nagmaal bedien en die Bordjies of sakkies word nie omgestuur nie. Dit word eerder op die Nagmaal tafel geplaas en elke gemeentelid moet opstaan en die “Tiende” koevertjie, met jou naam daarop nogal, voor almal in die bordjie te gaan sit. Almal hou dop wie kan betaal en wie nie.



Dit is so verkeerd. Koppel Nagmaal, Tiendes en openbare vernedering aan mekaar en so word mense gemunipuleer om te betaal.



Dit terwyl daar mense in die gemeente sit wie sukkel om net te oorleef en soms nie van hulle rekeninge kan betaal nie, maar hulle betaal die tiendes getrou. Ja, hulle beleef ‘n tekort, kry aanmanings vir skuld, maar word met God se straf gedreig sou hulle waag om hulle water en ligte te betaal en nie die tiende nie.



Die teks verse wat gebruik word is:


Maleagi 3
8 Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.
9 Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.

Word daar gekyk  na vers 9, dan sien ek God berispe die NASIE en nie die individu nie? So, indien die hele Suid Afrika se bevolking nie hulle Tiendes in geld aan die kerk betaal nie, gaan EK deur God gestraf word, al betaal ek getrou my Tiende? Iets klink nie reg nie!



Verder sê vers 9. "Met die vloek is julle belaai". Van wanner af is ek of Suid Afrika met ‘n “vloek” belaai? Weer eens, Maleagi 3 maak dan net nie vir my sin nie. Nie soos ek dit in die kerk hoor nie.



Dit het my laat wonder oor die situasie rondom tiendes en of dit is wat God verwag. Weer eens het ek die beproefde roete gevolg, naamlik om dit wat die mens sê te meet teen God se woord, naamlik die Bybel.



Wat my dadelik opgeval het toe ek Maleagi 8 verder lees, is die volgende:
11 Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
12 En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.

Hier word gepraat van sprinkane, opbrengs van grond, wynstok. Ja, sê die prediker, dis beeldspraak. Hier word verwys na jou geldelike inkomste uit jou beroep en dis daarom noodsaaklik dat jy die tiendes betaal.

Nou kom die vraag ... “en die nasies sal julle gelukkig prys” . Wel, ek het vir baie jare my tiendes betaal, maar nooit gevind dat die nasies my prys nie. Verder sê dieselfde vers... “omdat julle die land van welbehae sal wees”. Die land? Nou verstaan ek nie so mooi nie, Verduidelik asseblief die bostaande aan my, Prediker.. “O Hmm. Daardie gedeelte maak nie saak nie, seg hy, kyk net na vers 8 tot 10”.



Jammer, maar daarmee kan ek nie saamstem nie. Te veel het ek ervaar dat ‘n teksvers uitgelig word en dan uit verband toegepas word. Daar is net een manier en dit is om die HELE Bybel gedeelte waarin die teksvers voorkom te gebruik om die verband waarin dit gebruik word te bepaal en sodoende die Woord met die Woord te vergelyk.

In 2 Timotheus 3:16 waarsku God ons juis teen selektiewe gebruik van teks verse: Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.

So kom ons doen net dit.

Kom ons kyk na drie vrae:


1) Wat is ‘n Tiende?
2) Waarvoor was ‘n Tiende?
3) Wat is die skathuis?

1) Wat is ‘n Tiende?

Die Tiende is 10% van die groei, soos beveel in Levitikus 27:
30 Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE.
31 Maar as iemand van sy tiende iets wil los, moet hy die vyfde deel daarvan byvoeg.
32 Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee - alles wat onder die herderstaf deurgaan - die tiende moet aan die HERE heilig wees.
33 Hulle mag nie ondersoek of dit goed of sleg is nie, en dit nie omruil nie; maar as hulle dit tog omruil, moet dit en die geruilde heilig wees; dit mag nie gelos word nie.
34 Dit is die gebooie wat die HERE Moses by die berg Sinai vir die kinders van Israel beveel het.

Let op aan wie hierdie opdrag gegee is in vers 34. Vir die kinders van Israel.

Verder word die items van ‘n Tiende in die geskrifte as volg geidentifiseer, naamlik beeste, kleinvee, graan en vrugte. So, volgens die skrif is Tiendes kos! ‘n Voorbeeld hiervan is dat ‘n skaapwagter wat 100 skape het geseën word met 50 lammers in die lente. 5 van die lammers moes geoffer word aan God as ‘n Tiende. Die 5 lammers was dan gebring na die tempel in Jerusalem in erkenning en waardering teenoor God vir sy voorsienigheid teenoor Sy mense. Nêrens is hier enige verwysing na geld nie, slegs kos. Almal was tog sekerlik nie boere nie?

2) Waarvoor was ‘n Tiende?

God het tog nie kos nodig nie – God eet nie. God verlang nie ons geld in die vorm van Tiendes nie. Psalm 40:7 Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê.

Hosea 6:6 Want Ek het ’n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffer.

Wat my hier so opval is dat God so smag dat ons kennis aangaande Hom sal opdoen sodat ons Hom mag ken vir Sy groot liefde vir ons. Wat God wil hê is liefde van sy volk. God self het nie ons Tiende vir Sy gebruik nodig nie want Hy besit alreeds alles; Psalm 24:1  Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.

Die Tiendes was gebruik om die Levitiese priesters en hulle families te voed. Die priesters moes dag en nag in die Tempel bedien.



Kronieke 9:33 En dit was die sangers, hoofde van families van die Leviete, in die kamers, vry van ander diens; want hulle was dag en nag in hul dienswerk besig.

Vandaar die verwysing in Maleagi 3:10 naamlik “dat daar spys in My huis mag wees”. In Nahemia word daar ‘n duideliker prentjie geskets vir die rede van God se aanklag teenoor die Joodse volk.

Nahemia 13: 10 Ook het ek verneem dat die aandele van die Leviete nie gegee is nie, sodat die Leviete en die sangers wat die dienswerk moes verrig, elkeen na sy grond gevlug het.
11 En ek het met die leiers getwis en gesê: Waarom is die huis van God in verwaarlosing? En ek het hulle bymekaar laat kom en hulle weer op hulle pos aangestel.
12 En die hele Juda het die tiendes van koring en mos en olie na die voorraadkamers gebring.
13 En oor die voorraadkamers het ek Selémja, die priester, en Sadok, die skrywer, en Pedája, uit die Leviete, as skatmeesters aangestel; en as hulp vir hulle: Hanan, die seun van Sakkur, die seun van Mattánja, omdat hulle vertroubaar geag is; en hulle moes aan hulle broers uitdeel.

Nahemia sê hier dat die volk  nie hulle Tiendes aan die Levitiese priesters gegee het nie.

Die verwysing in Maleagi van “God beroof” het dus te doen met die volk van God wat nie hulle Tiendes na die Tempel gebring het nie en so is God beroof van die diens en aanbidding teenoor Hom deurdat die sangers en prieters moes uitgaan om kos te verdien vir hulle en hulle huisgesinne en dus nie in die Tempel kon bedien nie. In teenstelling met die ander stamme van Israel wat grond van God ontvang het, het die Leviete geen grond ontvang nie. Om hierdie rede was die ander stamme verplig om vir hulle te sorg. Dit moet onthou word dat die “Shekinah Glory”  van God gewoon het in die Tempel.

3) Wat is die skathuis?

2 Kronieke 31
11 Hiskia het toe opdrag gegee dat daar kamers aan die tempel aangebou word, en dit is gedoen.
12 Die offergawes, die tiendes en die gewyde gawes het getrou ingekom. Die Leviet Kenanja moes daaroor toesig hou, en sy ampsgenoot Simi was tweede in bevel.

Hier sien ons dat daar kamers in die Tempel aangebou was waar die kos geberg moes word.

Wel, nog nooit het ek so iets in enige kerk gesien nie. Vrieskaste vir die vleis, rakke vir die koolkoppe, beet, wortels en so voorts nie. Al wat daar is, is ‘n bankrekening vir die gebruik van die kerkraad en geboue. Bo en behalwe die geldelike tiendes en offerhandes het ek male sonder tal die versoek gehoor dat wanneer ons gaan kruideniers koop, so ‘n paar ekstra blikkies kos te koop en tog daar by die ingang in ‘n mandjie te plaas.



Ek weet ook van ‘n paar gevalle waar daar honger mense met kinders by ‘n kerk gekom het en om kos gevra het. Daar is aan hulle gesê om oor ‘n paar dae terug te kom want daar is nie nou kos in voorraad nie en die geagte kerkraadslid wat daarvoor verantwoordelik is, is nie nou beskikbaar nie. Daardie mense het honger weggegaan en nooit weer terug gekom nie. Wat het van hulle geword? Kon hulle nie so bereik geword het om ook Jesus te leer ken nie? Geen kos in God se huis nie, maar die Tiende geld is veilig in die bank.



Om op te som tot hier: Tiendes was in die vorm van voedsel om die Levite te voed om hulle vry te laat om voltydse diens in die tempel te lewer.



Nou, kom ons vra nou ‘n paar vrae.



V: Wat het geword van die Tempel/Skathuis?
A: Dit is in 70NC verwoes en nooit weer herbou nie



V: Hoekom nooit weer herbou nie?
A: Die ou Testamentiese sisteem van diere offers om die sondes van Israel te bedek was nie meer nodig nie. Die nuwe verbond is nou in die bloed van Jesus. Die Tempel gaan wel weer in die laaste dae  herbou word.



V: Waar is die tempel nou?
A: 1 Korintiërs 6: 19 Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20 julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

V: Wat het geword van die Leviete?
A: Die Leviete is nie nou nodig nie, want die Tempel bestaan huidiglik nie.

V: Wie is nou die priesters?
A: 1Petrus 2:5 & 9 5 Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.  9 Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Dit is sover die Bybel ons leer en inlig aangaande Tiendes. Ons kom nou waar die Kerk die Woord begin omswaai, verdraai, aanpas en her-interpriteer om Tiendes in die Nuwe Despensasie te regverdig.
 

1) Die Tiendes moet ingevoer word van die Ou Testamentiese Wet van Moses na die Nuwe Testamentiese genade deur Jesus se bloed.
2) Die Tiendes moet nou herdefinieer word van graan, vrugte en vee na geld en soms ook tyd.
3) Die skathuis moet herdefinieer word van die Tempel na die plaaslike kerk gebou.
4) Die liggaam van Christus moet nou net die gedagte aanvaar dat die predikers nou die Levitiese priesters vervang het en dus nou aanspraak mag maak op die Tiendes wat aan die Leviete verskuldig was.

Die Tiende is op twee maniere in die Kerk ingevoer.
 

1) Die tegniek van skuldgevoel en 2) skaamte deur Maleagi 3:8 te gebruik, Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.

Nou, watter toegewyde Christen wil God beroof? Deur die kweek van skuldgevoel is die grondslag gelê vir die uitbuiting van die gelowiges en ontneem dus so die vreugde en seëninge om te gee soos God dit in jou hart plaas.

Hierdie praktyk ignoreer Paulus se instruksie aan die gemeente van Korintiërs; 2 Korintiërs 9: 7 Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. 8 En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. 9 Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.”

Die gemeente word geblameer vir die geldelike tekorte wat hulle ondervind. Die gemeentelede word, volgens die leerstelling, nie deur God geseën nie, want ons gee nie ons Tiendes nie soos in Maleagi 3:10 Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie

Hiermee word ons uitgedaag om ons Tiendes vir die Kerk te gee en dan aanspraak te maak op God se belofte. Ai tog. Hierdie belofte is nooit aan die Nuwe Despensasie gegee nie, maar aan Moses vir die volk van Israel.


Daarom verloor soveel Christene hulle geloof, want hulle gee en gee maar bly met ‘n tekort. Nou begin daar gesoek word vir die rede en dan menigmaal “Ek is nie goed genoeg nie, ek doen iets verkeerd. God is kwaad vir my want ek is sleg”.



Vandag wil ek jou bemoedig. Dit is nie so nie. God is so lief vir jou dat hy Jesus aan die kruis laat sterf het sodat jy en ek gered mag wees.



Deur die leerstelling van die Tiendes word die gee verander vanaf gee vir die liefde van God na selfsugtig. As ek gee, dan ontvang ek baie meer.



Die Apostels het nooit die leer van Tiendes verkondig nie.



Handelinge 15:1 -31 boekstaaf die dispuut oor die besnydenis wat in Antiogië deur valse broeders versprei is. Daar is gepoog om nie-Jode te oortuig dat die besnydenis ook op hulle verpligtend was. Paulus het skerp hiermee verskil en het gegaan na Jerusalem om daar met die ander Apostels te beraadslaag.



Die oudstes en Apostels het ‘n brief geskryf aan die gemeente van Antiogië, soos opgeteken in Handelinge 15: 28 Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: 29 dat julle nie vleis moet eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete.

Die oudstes en Apostels, saam met die Heilige Gees se besluit was om nie enige laste op die gelowiges te plaas ten opsigte van Ou Testamentiese gebruike nie.



So, kom ons redeneer hieroor:  



Kom ons sê vir arguments onthalwe dat Jesus wel opdrag aan ons gegee het om aan te hou met die gebruik van die gee van Tiendes. Dit sou dan geskik wees om die Tiendes aan te wend om die priesterskap te voed soos oorspronklik gedoen was. Wie dan is die priesterskap? Die Apostel Pertus skryf in 1 Petrus 2:5 & 9 dat elke gelowige is ‘n priester. Hebreërs 5-8 leer ook dat Jesus die enigste priester is wat ons nodig het.



Nieteenstaande het die georganiseerde Kerk die betaal van Tiendes gaan leen uit die Ou Testamentiese model van die Levitiese priesterskap en daarmee ‘n nuwe priesterskap gestig naamlik Geestelike Ingeseëndes wat dan afgeskei is van die res van die Ligaam van Christus.



Die skeidslyn tussen die Geestelikes en Leke is nie Bybels nie. Die Apostels het nie die amp van “Geestelike Ingeseëndes” daar gestel nie, maar het manne gekies wat vol was van die Heilige Gees om die liggaam te bedien. Hierdie mensgemaakte skeiding tussen Geestelikes en Leke het die effek gehad dat die vloei van offerhandes herlei is vanaf die mense wat dit nodig het na die Kerk en die nuwe priesters. Dit is dieselfde metode wat die RKK volg en is hulle vandag een van die rykste organisasies ter wêreld.



Voorbeeld. Onthou die storie van die honger mense wat weg gewys is soos vroeer verwys (persoonlik ondervind). Wel, daardie selfde prediker het besoekende predikers van Amerika vermaak op die duurste ontbyte (Nie net eenkeer nie) en ook ‘n Balonvlug. Is dit werklik wat God verlang?



Die resultaat van hierdie ingevoerde sisteme is honger en finansieële slawerny en die werklike priesterskap, naamlik die hele liggaam van Christus, word nie voorberei om God se Groot Opdrag te kan uitvoer nie.



Hoe is dit verskoonbaar dat daar soveel geld uitgegee word op geboue en salarisse, dat daar uiteindelik baie min oorbly vir die versorging van weduwees en wese. So erg dat bo en behalwe die Tiendes en offergawes daar nog gevra word vir addisionele skenkings van kos. Dit, terwyl daar groot aanbouings vir ontspanning sale plaasvind.

So terloops, is dit net die Geestelikes se skuld? Ek gebruik die woord Geestelikes, want wil nie denominasies betrek  nie.



Nee, dit is ook ons skuld want ons waardigheid en gemak is so belangrik dat dit meestal gaan oor die beeld van die gemeente. Mooi gebou, nuwe pragtige volvloer matte, mees gemaklike stoele, die nuutste Audio Visuêle toerusting en moet nie vergeet van die orkes instumente nie. Sou ons gemeente bietjie agter raak met ons “image” dan soek ons gou ‘n ander gemeente wat by ons status pas.



Hier is nog ‘n verhaal van ‘n gemeentelid van ‘n ander denominasie. Dit is so naby my eie ondervinding dat dit my eintlik kwaad gemaak het. Lees self en kyk of dit jou ook emosioneel aangryp.

“Die Here het deur die jare probeer om die waarheid  aangaande gee aan my tuis te bring.Op vele geleenthede het Hy my aangespoor om dit wat ek normaalweg in die offerhande bord sou sit, te neem en dit direk aan iemand wat behoeftig is, te gee. Ek is lief om so te gee. Maar wanneer ek geen spesifieke opdrag van die Here gekry het nie, het ek nie die gebruik van tiendes vir die kerk te gee bevraagteken nie, want die kerk sal tog sekerlik my offer reg administreer om mense wat hulp nodig het, by te staan. Dit is tot die dag dat die Here my toegelaat het om ‘n gruwel te aanskou wat my ontnugter en naar gelaat het.
 

Ek was besig om ‘n rekenaar in die gemeente waar ek al jare aanbid, te hestel. Dit was ‘n Vrydagaand. Twee vroue met drie pragtige kinders , uitgevat in hulle “Sondag” klere het die kantoor binnegekom en hulp gevra vir kos. Die drie sekretaresses van ons gemeente het hulle net aangekyk. Uiteindelik het een, baie senuweeagtig hulle aangespreek en gesê dat die diaken van welwillendheid nie nou beskikbaar is nie en slegs Donderdae op kantoor is – Mag ek ‘n afspraak vir julle maak vir volgende Donderdag?
 

Een van die vroue het by haar gepleit dat hulle nie tot volgende Donderdag kon wag nie, dat hulle  nou voedsel dringend nodig het. Die sekretaresse het weer eens dieselfde offer aan haar gemaak en ek het siek op my maag gevoel. Daar was drie onskuldige kinders wat honger was.
 

Ek het vinnig na ‘n kitsbank gegaan, geld getrek en terug gehaas kerk toe, net om te ontdek dat die twee vroue en drie kinders leë hande daar weg is. Die sekretaresses het nie geweet waarheen hierdie mense gegaan het nie. Ek het in my motor gaan sit en ween. Ek het gevoel ek het die Here in die steek gelaat, maar die Here het vir my gesê, “ jy het nie gefaal nie seun, die kerk het gefaal”.
 

Sedert daardie eerste openbaring het die Here my vele ander sondes van die kerk teenoor die armes gewys. Daar was ‘n kerk wat besig was met beplanning om ‘n lugversorger van $35000, (R315000), te laat installer, terwyl ‘n gemeentelid wie in ‘n rystoel was, weens gevorderde veelvoudige sklerose, nie genoeg geld gehad het om kos te koop teen die einde van die maand nie weens die klein pensioen wat sy van die staat ontvang het. Meermale moes sy ‘n keuse maak tussen kos, medisyne of hitte in die winter. Vir baie maande het ek anoniem vir haar geld gegee en toe sy laas winter na die Here gegaan het, was sy in vrede. Deurdat sy vrygestel was van finansieële laste het sy ‘n seën vir almal om haar gewees met onuitputlike vreugde. Meer belangrik, sy het ons geleer van wat die regte gee is.
 

Die vroeë kerk het ‘n baie beter begrip gehad van Jesus se bedoelings van versorging van dié in nood as wat ons vandag het.

Hoe het die Kerk so ver van koers geraak?

Hierdie ondervinding van die skrywer is werklik wyd verspreid. Daar is vele sulke getuies, maar ek glo dat jy ook kan getuig van sulke ondervindings.

DIE GEE SOOS JESUS BEDOEL

Alhoewel die Tiende nie ‘n vereiste vir die Christen is nie, word ons wel aangesê om te gee. Wat verander het van die Ou na die Nuwe Testament is ons motivering van gee. In die Ou Tesrament was Tiendes vir die Jode verpligtend. In die Nuwe Testament moet ons gee met vreugde soos gelei (2Korintieërs 9:7), maar nie onder dwang of verpligting nie.

Ons kan werklik nie langer bekostig om ons offerhandes te laat misbruik vir kerk geboue, konferensie sentrums, lug versorgers ens, terwyl diegene vir wie Jesus gesterf het, honger ly en verlore gaan nie.

ARGUMENTE VANAF GEORGANISEERDE KERKE.

Die Melgisedek argument

Genesis 14: 18 Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring 19 en hom geseën: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. 20 Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Toe het Abram vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee.

Abraham het ‘n Tiende van alles aan Melgisedek gegee. Melgisedek was die Koning van Salem (Jerusalem), Hoë Priester van God.

Soos vroeër uitgewys, word dieselfde metode gevolg, naamlik om een teksvers uit verband te gebruik en ‘n leerstelling daarom te bou. Die kern vraag hier is, wat word bedoel met alles? Wel hierdie “alles” is ‘n tiende van die buit na die oorwinning van Abraham oor Kedorlaomer. Kedorlaomer het Lot weggevoer en Abraham het hom agtervolg, verslaan en Lot bevry. Die buit wat daardeur verkry is, is wat Abraham aan Melgisedek gegee het. Die voorstaanders  van Tiendes beweer dat daar ‘n parallel bestaan tussen Melgisedek, Koning van Salem en Jesus wie die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek is. Vele verwysins hierna in Hebreërs 5 tot 7.



Deur egter noukeurig Hebreërs 7 te lees, sal daar gou agterkom word dat die skrywer daarvan geensins die bedoeling gehad het om Tiendes te verdedig of te promoveer nie, alhoewel dit ‘n paar maal genoem word. Eerder is die bedoeling van die skrywer om aan die Hebrieêrs te probeer toon dat Jesus ons Hoë Priester is deur om Jesus met Melgisedek, vir wie die volk ‘n hoë agting het, te vergelyk. Met hierdie vergelyking het hy probeer om deur te dring na die mense. Die Hebreërs het duidelik verstaan, maar omdat ons nie Jode is nie moet ons dieper delf om te verstaan wat hulle as vanselfsprekend geweet het.



Die skrywer vra dan ook eintlik in hierdie gedeelte dat “Indien Melgisedek so ‘n groot Hoë Priester was as slegs ‘n mens, hoeveel groter is Jesus wie uit die dood opgewek is en vir ewig lewe.



Weer eens vra ek om verskoning vir die lang artikel en vra geduld want hierdie is nie ‘n ligtelike saak van sensasiolisme nie, maar ‘n diepe besorgdheid oor wat met die Kinders van God gebeur, en wil hê dat jy vir jouself ‘n ingeligte besluit kan neem.



‘n Tiende van alles? Definieër Alles!

Kom ons kyk so ‘n bietjie na wat bedoel word met “alles” Hierbo net vlutig aangeraak.

Abraham het naby die groot bome van Mamre by Hebron gewoon. Hebon is so 32 km suid van Jerusalem. Die Genesis veslag sê dat Abraham Kedolaomer agtevolg het en hom by Dan ingehaal. Dit is so 300km weg van Abraham se tuiste.  Het Abraham sy hele huishouding met vee, vodder ens saam met hom geneem toe hy Kedolaomer na gejaag het? Onthou dat Kedolaomer met sy weermag daar was. Nee, Abraham is met met ‘n klein mag van 318 manne agterna. Dit sou ‘n geval van dag en nag marsjeer gewees het.



Op sy terug reis kom Melgisedek hom tegemoet en voorsien Abraham en sy soldate voedsel en wyn. As ‘n teken van dankbaarheid vir hierdie gasvryheid, gee Abraham hom ‘n tiende VAN DIE BUIT. Nie ‘n “Tiende” soos later deur die Wet van Moses nie.



Dit skets nou ‘n heeltemaal ander prentjie ten opsigte van hierdie kerk leer. Het Abraham daarna elke jaar na Melgisedek gereis en hom ‘n tiende van al die aanwas gegee? Nee, hy het nie. Dit was ‘n eenmalige geskenk as bewys van waardering teenoor Melgisedek.



Daar is dus geen verband tussen Abraham se eenmalige dankoffer en die latere instel van Tiendes in die Wet van Moses ten opsigte van die Levitiese Priesterskap nie.



So hier word die Woord weer eens verdraai deur die Kerk om Tiendes te eis.

1) Herskep die “buit van oorlog” en “plunder” (Genesis 14:14-16) na “inkomste” en “tyd”. Hoe dit moontlik is om hierdie sprong te doen weet nugter alleen.
2) Ignoreer dat Abraham se skenking van ‘n tiende van die buit aan Melgisedek VRYWILLIG  en geensins VERPLIGTEDND was nie.
3) Die verkeerde aanname dat die geskenk aan Melgisedek ‘n herhaalende tendens geskep het. Daar is geen skriftuur wat dit enigsens sugereer nie.
4) Ignoreer die feit dat Melgisedek geensins gevra het vir ‘n offer nie.
5) Ignoreer dat dit die nastate van Levi is aan wie die Tiendes verskuldig is ( Hebreërs 7:5).
6) Ignoreer Hebreërs 9:9-10 wat dit duidelik stel dat die ou offers ensovoorts gestop het met die aanvang van die “Nuwe Testament”.



Verdere Argument: “God is onveranderlik”

Galasiërs 4: 21 Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?
 

Hierdie teks word gebruik om te bewys dat “God nooit verander nie”. 

Terwyl God nooit verander nie, is dit ‘n baie swak argument om te probeer om so die leer van Tiendes te regverdig. Indien hierdie teks wat so uit verband geruk word deur die Wet voor te hou, dan sekerlik moet die res van die Wet ook onderhou word. Dit sou beteken dat Jesus se kruisdood geen waarde het nie. Ons almal is dan nog onder die Wet van Moses.



Dit sal nogal ‘n gedoente afgee met die brandoffers op die altaars in elke gemeente. Rook wat opstyg Hemel toe. Elke gemeente met sy eie silos, wyn parse en natuurlik, die weivelde waar die vee wei. Wonder wat die DBV hiervan sal sê.



Betigtiging van die Skrifgeleerdes en Fariseers.

Hier is die enigste keer in die Nuwe Testament waar daar enigsins ‘n verwysing is na die betaal van Tiendes”.

Matteus 23:
23 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.

Nog ‘n argument wat gebruik word om weer eens Tiendes te verkoop. Maar soos met al die vorige argumente is hierdie een ook baie oppervlakkig wanneer dit aan God se Woord gemeet word. Dieselfde misgebruik van die Woord is nog elke keer gebruik. Kom ons kyk na hierdie argument.



1) Herlei “kruisement en anys en koljander” wat kos is na “geld”. Altyd geld, geld.

2) Jesus het met die Skrifgeleerdes en Fariseers gepraat, wie Jode was. Hy het met hulle gepraat onder die Wet van Moses. Daar hulle Jode was en onder die Wet van Moses was, was hulle verplig om Tiendes te betaal. Jesus het NIE met die heidene, naamlik die Nie-Jode hier gepraat nie.



Hoekom is dit so moeilik om te verstaan dat die Jode God se volk is en heeltemal ander wette het as die Nie-Jode?



Dat hier na die Wet van Moses verwys word is tog so duidelik in die bostaande; “die swaarste van die wet laat julle ná”.

Jesus maak dit baie duidelik aan die Skrifgeleerdes en Fariseers dat “Tiendes” deel van die Wet van Moses was. Hy stel Tiendes in dieselfde lig as “die reg en die barmhartigheid en die trou”.

Wat Jesus hier probeer aan hulle verduidelik is dat die Wet hulle verplig om Tiendes te betaal, tesame met die beoefening van geregtigheid, barmhartigheid en trou. Dit is almal een. Hulle wou net “Tiendes” betaal maar die ander gedeelte was moeiliker en het hulle dit ontduik.



In plaas daarvan dat dit die betaal van Tiendes vir ons bewys, doen dit eintlik die teenoorgestelde. Dit bewys dat dit onder die Wet van Moses geval het en absoluut niks met ons te doen het nie.



Daar is nog so baie wat gesê kan word, maar sal volstaan hiermee.



Ter afsluiting, geensins is die bedoeling van hierdie artikel om mense te beinvloed om nie te gee nie. Dit is net nie reg dat God se Woord verdraai word om iets te probeer bewys deur mis interpitasies nie. God het ‘n blymoedige gewer lief. Luister na God se stem en HY sal jou lei na daar waar Hy wil hê jy moet saai. Sou God dit op jou hart lê om ‘n bydra tot jou gemeente te doen, dan doen jy dit. Sou God jou lei om die bedrag wat in JOU hart is aan te wend om iemand van kos te voorsien, doen dit. Breek uit die greep van afhanklikheid van die mens en plaas jou vertroue in God. Hy sal dan jou voete rig na daar waar Hy jou wil gebruik as sëen vir ander.



2 Korintiërs 9
7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief

BETAAL TIENDES...of nie?

bottom of page